Jongspan Ruim Self Hul Speelparkie Op

Deur Richard Roberts
24 Augustus 2016

’n Speelparkie in Isabelstraat in Kalkfontein, wat oor die jare in ’n rommelhoop ontaard het en ook bekend is as ’n uithangplek vir misdadigers, is onlangs self deur die jongspan in dié gebied opgeruim.

Die groep meisies en seuns, almal graad 7-leerders aan die Laerskool Kalkfontein, is reeds twee weke besig om die parkie skoon te maak.

Die opruiming is ook iets wat ’n inwoner en gemeenskapsleier, Justin Wildebees, verwelkom. Hy het oor die kinders toesig gehou.

“Die parkie is bekend vir rommelstrooiing en twee jaar gelede is hier selfs iemand in die veld vermoor. Dit was ’n bendeverwante aanval,” vertel hy.

“Die moord het baie inwoners hier ook verhoed om ’n paadjie in die parkie te gebruik,” vertel Wildebees.

“Die mense het eintlik bang geraak.”




Wildebees sê hulle wil die parkie vir die kinders terugneem.

Langs die parkie is ’n informele sokkerveld wat daagliks deur tienerseuns gebruik word.

“Die parkie lyk verskriklik vuil en morsig. Ons wil die skurke wegkry.

“Kinders speel hier, maar hulle kan siektes optel weens die gemors,” sê Wildebees.

Daar is verlede Donderdag weer sakke rommel opgetel en weggegooi.

“Die parkie was baie vuil. Hier was babadoeke, sanitêre doeke en vuil skoene wat ons opgetel het. Ons wil die mense vra om nie hul goed hier te gooi nie.

“Ons wil die mense ook vra vir hul samewerking en om die plek te help skoonhou,” sê Marlene Hendricks, een van die leerders wat Donderdag help opruim het.

Source: Netwerk24

0
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial