Shirmoney Rhode bring hulde aan Adam Small

Vir my om eerlik en opreg te skryf, moet ek soms wag vir die regte tyd. En vandag, hier, nou waar ek sit, is dit die regte tyd om oor hom, Adam Small, te skryf. Adam Small was vir my meer as net ‘n Afrikaanse skrywer. Hy was my literêre held en rolmodel. En alhoewel ek jare na hom gebore is en my bevind het in ‘n gemeenskap en spasie ver weg van hom af, het dit gevoel asof ek hom ken. Asof hy my ken, want ek het my familie en vriende en die Babie oorkant die pad raak gelees in sy werk. Ek raak verskriklik touchy as dit by hom kom, nie net nou dat hy gesterf het nie, maar al vandat ek die eerste keer sy werk gesien het.

Ek het al ‘n keer of wat aan mense gesê ek dink ek is in die verkeerde era gebore. Hoe graag sou ek nie lank eindelose gesprekke oor ‘n koppie koffie saam met hom wou deel nie. Of om protespoësie saam hom êrens in ‘n kamer onder kerslig te sit en skryf toe ons land gebewe en gebrand het. Ek wens dat ek die voorreg gehad het om hom persoonlik te ken. Dis hoe erg ek oor Adam voel. Diegene wie die voorreg gehad het om hom wel só te ken moet hulself gelukkig beskou. Ek was nooit ‘n groot aanhanger van bekende sangers of akteurs nie, maar Adam, hy was nommer een op my lys van dié wat ek aangehang het.

Die eerste werk van Small wat ek gelees het (behalwe sy gedigte), was Krismis van Map Jacobs. Dit was ‘n helse roller coaster ride om dit te lees, want dit was baie close to home. Ek het dit gelees om en by dieselfde tyd wat my oudste broer uit die tronk gekom het. My broer het regtig probeer om ‘n ommeswaai in sy lewe te maak. Ek kon dit in elke beweging van hom sien. Small se werk was dus vir my persoonlik en nie net letterkundige meesterstukke wat van hoek tot kant geanaliseer hoef te word nie. Dit was baie meer.

Ek het daarna vir ‘n tyd eers my ma se Konsalik-boeke wat ek skelmpies gelees het weggesit en probeer om van Small se goed te lees. Dis egter op universiteit waar ek die meeste waardering vir sy werk gekry het. Nie omdat Steward van Wyk (Small se profeet) daar as hoof van die departement en as dosent werk nie, maar omdat ek ‘n genuine belangstelling in sy werk gehad het. Ek dink van die medestudente het seker maar gedink ek is mal oor ek so aangaan oor ‘n man wat my skaars ken. Ek onthou ook hoe ek “What about de lô?” met alles in my voorgedra het eenkeer by die Fugard-teater saam met Antjie Krog. Die trots en nostalgie wat ek gevoel het as ek sy werk voorgedra het, dié sal ek nooit vergeet nie.

Omdat Small in Kaaps (ja, dit ís Kaaps) gedig en skryf het, het sy werk my ook geïnspireer om in Kaaps te dig en skryf. Baie mense van kleur (maar ook die Afrikaanse taalgemeenskap in die algemeen) ken nie die geskiedenis van Afrikaans nie. Ek het byvoorbeeld nie geweet dat Afrikaans sy wortels in die Kaap geskiet het toe die Nederlandse setlaars, slawe en Khoi probeer het om met mekaar te kommunikeer nie. “Volgens MCJ (Christo) van Rensburg is Kaapse Afrikaans in terme van sy historiese beslag terug te voer tot die sewentiende-eeuse verafrikaansing van Nederlands onder die invloed van die slawe” (Hendricks 2012). Kaapse Afrikaans het dus onstaan as die slawe en Khoi se poging om Nederlands te praat. Niemand het dit vir my op skool geleer nie (maar Diana Ferrus het, toe ek as jong skrywer haar skrywerswerkswinkel bygewoon het – dankie Antie), want dit word nie as belangrik genoeg beskou om deel uit te maak van die kurrikulum nie. Of dalk is die powers that be skrikkerig dat die leerders te trots gaan wees oor hulle Afrikaans (watse weergawe dit ook mag wees) dat die Standaard daaronder sal ly. Voor ek die geskiedenis van Afrikaans geleer het, het ek altyd gedink Kaapse Afrikaans is die bad version van Standaardafrikaans en dat Standaard die “regte” of “suiwer” manier is om Afrikaans te praat. Toe ek die geskiedenis van Afrikaans leer, het ek trots gevoel oor die Afrikaans wat ek praat. Ek was nie meer skaam om my weergawe van die taal te praat of skryf nie. Small se Kaapse tekste het baie toegevoeg tot daardie trotsheid wat ek het as dit by Kaapse Afrikaans kom.

Ek dink dis omdat sy stories en gedigte oor eenvoudige mense uit arm gebiede gaan, dit baie treffend was vir die tydperk waarin hy geskryf het. Mense sou eerder dig oor die natuur as oor die werklikheid van arm mense. Behalwe die bietjie wie protespoësie geskryf het, het die res hulle blindgestaar as dit kom by ander mense (en veral arm mense) se probleme. Hy wat Adam is het nie geskroom om die randfigure in sy werke bloot te stel nie. Hulle was vir hom waardig genoeg om deel uit te maak van die Afrikaanse letterkunde. Hulle stories was vir hom waardig. Hulle lewens en gemeenskappe was vir hom waardig. Hulle menswees was vir hom waardig. Hulle hét ‘n plek gehad in die Afrikaanse letterkunde en hy was gewillig om hulle stories neer te pen. Inderdaad soos ‘n Moses wat die volk uit Egipte tot in die letterkunde moes lei. Hy het erken dat hy die taal afgeluister het omdat hy self nie Kaaps kon praat nie, en ek dink dat sy poging om in Kaaps te skryf, uitstekend was.

In my tweede of derde jaar op universiteit het ons ‘n taak gekry waar ons ‘n Afrikaanse digter moes kies. Ons moes lees oor die digter se lewe en werk en dit dan verduidelik en analiseer. Ek het sonder om twee keer te dink vir Small gekies. Ek het die een teks na die ander gelees en het net meer en meer myself daarin verloor. Heidesee, sy enigste roman, wat baie keer nie melding van gemaak word nie, het ek net so baie geniet. Ek dink dalk moes hy nog ‘n roman of twee geskryf het. Sy enigste werk wat ek nog nie gelees het nie, is Klawerjas. Dit pak ek binnekort aan. (Te danke aan die pragtige Roché Kester wie dit gisteraand aan my gegee het as geskenk – baie dankie, vriendin.)

In 2013 het ek betrokke geraak by ‘n baie onsmaaklike debat rondom Small se werk. Nathan Trantraal, skrywer van Chokers en survivors (2013), het Small in die media daarvan beskuldig dat sy werk nie outentieke Kaaps is nie en dat hy van Kaaps “‘n joke taal gemaak het. ‘n Taal waarin daar gesing en gedans word.” Ek was toe besig om my honneursskripsie te doen oor die einste Trantraal se debuutdigbundel. Ek het besluit om aan Nathan te skryf en in my ope brief aan hom het ek op die mooiste manier wat ek kan, genoem dat daar baie jongmense is wie groot waardering het vir Adam Small se werk en wie hom as ‘n goeie Kaapse skrywer sien. Ek het ook geweet dat daar sekere mense geskuil het agter Nathan wie maar dieselfde gedink en voel het oor Small se werk as hy. Hulle was net te coward om dit self te noem. Adam Small se werk praat vir ditself. Dis nie eers ‘n debat werd nie. As sy werk nie goed was nie, sou ons almal Saterdag gewonder het wie Adam Small is.

Sowat twee weke na die ope brief op LitNet geplaas is, het ek ‘n e-pos van Small gekry. Ek kon dit nie glo nie. In sy e-pos beskryf hy my argumente as logies volhoubaar, skerp en insigvol. Hy noem toe ook dat hy self nooit reageer as mense sy werk aanval nie. Ek dink dit was vir my een van die grootste oomblikke van my lewe. Dat hy, met al sy kennis en ervaring, my brief gelees het en objektief daaroor terugvoering kon gee was vir my alles. Of course het ek ‘n lang reply gestuur waarin ek hom sommer ook vra of ek vir hom ‘n Facebook page kan oopmaak en manage. Hy het nooit reply nie, maar as ek hy was sou ek ook nie. Ek klink soms bietjie sinies. Ek weet.




In 2014 het ek Adam Small vir die eerste keer by die Swart Afrikaanse Skrywers-simposium gesien. Hy het ‘n toespraak gemaak en ek was te starstruck om alles te onthou wat hy gesê het, maar ek het sy teenwoordigheid gevoel. Diegene wat daar was sal kan getuig dat dit die tipe oomblik was wat ‘n mens nie sommer oorvertel nie. Dit was die tipe oomblik wat jy veilig in jou gatsak wil wegbêre en wat jy wil onthou en voel vir so lank as wat jy kan. Ek het daar gesit en gevoel soos die vrou in die Bybel wat aan bloedvloeiing gely het. As ek maar net aan die soom van sy baadjie kon raak. Ek kon na die tyd manage om ‘n foto saam hom te neem. Maar my eerste ontmoeting was nie soos die droom wat ek gehad het nie. Ek het altyd bly hoop dat daar weer ‘n geleentheid sou kom, maar daar het nie.

Ek weet mense mag dalk nie verstaan hoekom ek so oor Small voel nie en baie mag dink ek is mal. Maar in my hart weet ek ek het die voorreg gehad om die aarde te bewandel met so ‘n groot gees.

Ter afsluiting: Behalwe al die hulde en eer wat aan Small gebring is in sy leeftyd, dink ek Afrikaans is Adam Small ‘n verskoning verskuldig. Ons almal weet hoekom. Hy is vir my ver meer as ‘n Hertzogprys werd. Mag sy soet siel in ewige vrede rus.

Ek heg twee gedigte (Adam van al’ie nasies en Spore op die hart) aan wat ek in denke van Small geskryf het.

Adam van al’ie nasies
Vi’ Adam Small (2016)

Soes ‘n Adam aan die begin van al’ie nasies,
het jy oek spasie gemaak vi’ ‘n rib aan jou sy,
‘n Rosalie soos ‘n Rut van ouds,
getrou tot aan die roggel.
Getrou aan die rib van jou rib.

Soes ‘n Adam aan die begin van al’ie nasies
het jy spasie gemaak vi ‘n taal.
‘n Standaard.
‘n Bolands.
‘n Kaaps.
Afrikaans met al sy gesigte.

Daai oem da êrens in Wellington
met sy vaal stofskoene en bry in sy ve’hemelte.
Daai antie in Hanover Park met die overall by die wasgoedlyn,
wie se valse tanne nog in ‘n glasie water voo ha kooi staan.

Jy’tie geskroom om hulle storie te ve’tel nie
Jyt oekie gedink hulle is te common vi Afrikaans’ie.

Soes ‘n Adam van ouds het jy opgestaan na die
val vannie vrug, jy’t opgestaan van jou rug
en met pen en papier geploeg en gespoeg.
Soema in die gevriete van daais wie gemien
het Kaapse Afrikaans is nie genoeg.

Innie liewens van die randfigure het jy die Here gesien,
en sy werke verstaan.
Tanne getel vannie straatveër en factory worker,
die vrugtesmous en blommeverkoeper.

Soes ‘n Adam van ouds was jy die vrug vannie liewe
gegie, en toe jy kan sien, het jy geskrywe wat jy sien.
Met jou kitaar as kruis het jy van huis tot huis mure
afgebriek van disgrace.

En nou pellie, kan ek my weergawe vannie taal
praat sonne om skaam te skuil omdat sommiges mien
my storie makie sakie.

Jyt gese dit maak saak, en nou is daai al wat vi’my matter.
Dit staan geskrywe, maybe nou nie op lywe, ma in my hart
wa dit hoort.

Saloet. Saloet. Saloet.

Spore op die hart

Vi’ Adam Small (2016)
En nou Adam, kom die storms
om jou spore
van die aarde se mat
weg te vee.
Soes ma’me-hulle altyd gesê het.
Maa’ my hart, hy is nog uitgetrap met jou woorde.
Jou spore.
Hulle sit hier voorlangs op die stoep.
En as die son die dag weer leer om daar te kom mooi maak,
sal ek vir almal ‘n gedeelte van my hart gee.
Besaai met jou woorde.
Koebaai Adam, koebaai.

In Foto: Shirmoney Rhode en Adam Small

0
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial